Dalene Matthee

Kringe in ‘n bos

Opsomming
Saul Barnard is ‘n houtkapper met ‘n rustelose siel – hy wil vreemdes uit die Bos hou en die vernietiging van die Bos probeer keer. Dan is daar ‘n legendariese olifantbul – Oupoot – wat losbreek van sy trop … Oupoot en Saul het ‘n vreemde band tussen hulle . In die groen skemerwêreld van die Outeniekwa loop hulle kringpaaie. Saul Barnard, deur sy mense verwerp en deur gewetenlose houtkopers tot kneg verneder; Oupoot, eindeloos agtervolg deur jagters. ‘n Man en sy dier-broer – saamgegooi in ‘n ongerepte oerbos, wat stuk vir stuk deur gouddelwers, boskappers en ander uitroeiers vernietig word. Saul volg Oupoot se spoor, al nader aan die waarheid wat sy lewe vir altyd sal verander.

In Kringe in ‘n bos het Dalene Matthee haar bemoei met bewaring en haar sterk uitgespreek teen die roekelose verwoesting van die inheemse bos. Maar sy het ook die stryd aangesê teen die hartelose uitbuiting van die minderbevoorregtes, die ongeletterdes: die bosmense in besonder, maar nie net hulle nie. Houdings en verhoudings is belangrike onderdele van haar werk.

  • Kringe in ‘n bos is in Engels, Portugees, Nederlands, Frans, Yslandies, Spaans, Hebreeus, Duits, Sweeds, Italiaans, Fins en Noorweegs vertaal.
  • Exclusive Books het in 2006 ‘n lys van 101 Books to Read Before You Die aangekondig. Slegs drie Afrikaanse boeke het hierdie lys gehaal, en dit sluit Kringe in ‘n bos en Fiela se kind in.
  • Kringe in ‘n bos is ook deur Philo Pieterse Produksies in ‘n film verwerk as Circles in a Forest.
  • Kringe in ‘n bos is in Braille en op band vir gesiggestremdes beskikbaar.

Artikels

  • Kringe in ‘n bos
  • Fiela se kind
  • Moerbeibos
  • Toorbos