Dalene Matthee

Bosboeke

Dit was die besonderse bekoring van die Outeniqua-bos wat haar na haar grootste sukses gelei het.

Sy het lank navorsing gedoen vir haar eerste Bosroman, Kringe in ‘n Bos (1984). Sy het by verskeie geleenthede die bospaaie saam met haar gesin gestap, en snags by die verblyfplek van die olifante geslaap.

“Ek woon naby die Bos. Jy ry kilometers ver deur plase, denneplantasies en kreupelhout en jy vra jouself af: Wat het van die oerbos geword wat hier gestaan het?”

Tussen vier- en vyfhonderd olifante het hierdie Bos bewoon in 1886, maar teen 1972 was daar slegs twaalf van hierdie pragtige diere oor. Wat het van hulle geword, wie het hulle uitgeroei, en hoekom? Dit is as gevolg van haar soeke na antwoorde op hierdie vrae dat Dalene haar eerste Bosroman geskep het. Volgens haar het sy Kringe in ‘n Bos geskryf om die waarheid daaroor te probeer vertel. Haar boek het internasionale status en sukses verwerf, is in 11 tale vertaal, en het haar die gesogte ATKV-prys besorg. Daar is ook ‘n film gemaak oor die Engelse vertaling van haar boek, Circles in a Forest.

Nog twee bosboeke het gevolg: Fiela se kind (1985) en Moerbeibos (1987). Van Fiela se kind is ‘n rolprent onder regie van Katinka Heyns gemaak.

Met Toorbos, net soos in Kringe in ‘n Bos, is Matthee se omgaan met die Knysna-bos ‘n omgang wat getuig van ‘n diepgaande kennis, verstaan van en omgee vir die bome, blomme en diere van dié inheemse woudgebied.

  • Kringe in ‘n bos
  • Fiela se kind
  • Moerbeibos
  • Toorbos