Die joernalis Amanda Botha was persoonlik bevriend met Matthee, en sê dit oor haar romans: “Sy was ‘n storieverteller sonder weerga; sy het die Afrikaanse vertelkuns ontsettend verryk deur verhale op ‘n meesleurende en menslike wyse te vertel. Sy het ook vir vernuwende aspekte in die Afrikaanse leefwêreld gesorg, soos die ekologiese waardering vir die Knysna-bos se fauna en flora en die kyk na ‘n groep mense op die kantlyn van die lewe, naamlik die bosbewoners. Sy het ‘n betekenis, menslikheid en siel aan hul bestaan gegee,” het Botha gesê.
“Met die herlees van al haar romans het ek veral opgemerk hoe sy die taal vernuwe het met ‘n ontsaglike klomp nuwe of voorheen onbekende woorde en frases. Veral in die bosboeke, maar ook die seevaartterme en gebruiksterme in ‘n boek soos Pieternella van die Kaap.
“Ongeag wat letterkundiges ook sou sê oor die moontlike ‘maklike oplossings’ waarin sy in haar boeke sou soek, was die grondige navorsing een van haar uitstaande kenmerke.
‘n Boek soos Susters van Eva bied byvoorbeeld ‘n besondere beskouing van die feminisme en is beslis die moeite werd om weer te besoek,” het Botha gesê.
Volgens Botha was Matthee iemand wat graag stories vertel het, ‘n mens met ‘n heeltemal eksentrieke siening van die geskiedenis en die lewe.