Biografie

Navorsing en skryf

Dalene het altyd gesê: “Jy skryf vir daardie een mens wat meer weet as jy.” As gevolg hiervan het sy ‘n enorme hoeveelheid navorsing en veldwerk vir elkeen van haar boeke onderneem – veral vir haar historiese romans:

Vir Moerbeibos is sy Italië toe om die sybedryf te verken en Engeland toe om meer oor die skeepvaartbedryf uit te vind. Vir Pieternella van die Kaap het sy veldwerk in Nederland en in Londen en op Robbeneiland en Mauritius gaan doen. Sy het mense van heinde en ver en op afgeleë plekke opgespoor en hulle deeglik uitgevra. Sy het boeke bestudeer en die plekke besoek waar spesifieke gebeure afgespeel het. Sy het lang tye in die Kaapstadse Argief en in navorsingsbiblioteke soos die JS Gericke Biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch en die British Library (waarvan sy ‘n lid was) in Londen deurgebring. Vir Pieternella van die Kaap het sy vir dr Dan Sleigh as medenavorser aangestel.

Sy het tot vier jaar se navorsing en agtergrondwerk vir elke boek gedoen voor sy haar hand op papier gesit het. Sy het altyd die eerste weergawe van haar boeke self vertaal om te verseker dat die kultuur-spesifieke inligting reg oorgedra word. Of, soos sy gesê het, “om te verhoed dat die Engelse koekepanne met cake pans vertaal”.